Saturday 24 October 2015

Vriendelikheid

Vandag kyk ons na 'n derde aspek van diensevangelisasie wat voortloei uit gasvryheid. Vriendelikheid en 'n christelike gesindheid. Mens sou dink dat die twee dieselfde is, maar ons het verskeie voorbeelde in die wêreld en geskiedenis gesien hoe christene met opregtheid alles behalwe vriendelik of onvangklik is, hoe "christene" veroordelend en ongeskik is in die naam van geloof. Dit is tragies dat dit gebeur, maar mense verstaan baie keer nie werklik die boodskap van die evangelie nie. Die boodskap is een van liefde wat ons in Jesus se dood en lewe vind. Hy het gesterf vir sonde om ons skoon te was en ons 'n tweede kans gegee. In Sy aardse lewe het Hy vir ons gewys hoe om werklik te leef. Hy was 'n mens tussen mense. Ons vind baie min plekke waar Sy eerste reaksie oordeel was, dit is bv in die Tempelplein waar besigheid gedoen word en die plek wegvat van die mense wat eintlik daar 'n ontmoeting met God moes hê. In meeste van Sy interaksie met mense het Hy by hulle gekuier, hulle lief gehad, saam met hulle tyd spandeer. Hy het altyd tyd gehad vir sondaars, het by hulle gekuier en was in alle opsigte vriendelik met hulle. Hy het nie altyd hulle lewenswyse goedgekeur nie, kyk na sy ontmoeting met Saggeus in Lukas 19:1-10 Jesus het nie Saggeus veroordeel en toe verander Saggeus nie. Hy was vriendelik met hom, het by hom gaan kuier en iewers in die kuier het Saggeus se lewe verander.
Wat dink jy het hulle oor gepraat?
Het jy dalk ervaring met Christene en hoe vriendelik hulle met jou was?
Ons sien by Jesus dat Hy nooit te haastig is nie, wat beteken dit vir jou en my?
As Jesus se eerste reaksie op mense was om na hulle toe te gaan en gesels hoe behoort ons te reageer?
Hoe kan ek vriendelik wees teenoor ander in my lewe?

No comments:

Post a Comment